HEXBERG KWEKERY - OORSIG

Hexberg Kwekery is ‘n vierde-generasie familie-onderneming wat in Wellington, Suid-Afrika, geleë is. Die kwekery, wat voorheen as die Attie Brink Kwekery bekend was, verskaf reeds vir meer as nege dekades hoë-kwaliteit stokkies aan die wyn-, tafel- en droogdruiwe industrieë.

Hexberg Kwekery se toewyding tot die stokkiesbedryf, sowel as aan sy kliënte, blyk duidelik uit die meer as 60 jaarlange verbintenisse met van sy kliënte en ander familiebesighede.

ONS GESKIEDENIS

Hexberg Kwekery het in 1924 tot stand gekom toe Pieter Isak Willem Brink sy eerste wingerdstokke gekweek het. Volgens oorlewering het sy aanstaande skoonma, toe hy in 1920 met haar dogter wou trou, sekere voorwaardes aan hom gestel. “Jy kan met my dogter trou mits jy ‘n kwekery begin,” het sy gesê. Só het Hexberg Kwekery sy ontstaan gehad. Die eerste kommersiële stokke is in 1924 gelewer. Piet Brink het tot die 1950’s aangehou om stokke te kweek. Teen sy aftrede was kwaliteit-wingerdstokke reeds sinoniem met Hexberg Kwekery.

Sy enigste seun, Attie Brink, het die Kwekery later oorgeneem en op die suksesse van sy pa voortgebou. Gedurende die volgende paar dekades het Wellington se wingerdstok-bedryf baie uitgebrei en gegroei. Attie word steeds vir sy vaardighede en toewyding in die bedryf onthou. Hy het, saam met ander kwekers, ‘n belangrike bydrae tot die vasstelling van minimum-standaarde vir stokke gelewer – iets wat vandag steeds in die bedryf geld en gebruik word.

In 1989 het Attie se skoonseun, Theo Heydenrych, tot die onderneming toegetree en ‘n nuwe era, waar tafel- en droogdruiwe ‘n groter rol speel, ingelei. In 2017 het Theo Heyderych Junior as die vierde-geslag wingerdkweker op Hexberg by die onderneming aangesluit.

ONS MENSE

Ons kundige, ervare en toegwyde personeel verseker dat alle kwekery- en kliënte-behoeftes goed bestuur word. Dit is die hartklop van die onderneming. Ons bestuurstyl inkorporeer alle werkernemers se waardevolle vaardighede en insette en besluitneming geskied gereeld met die inagneming van grondvlak-insette.